29 Junie 2025

Van heerlikheid tot heerlikheid deur vergifnis (05)

Ek onthou nog die eerste keer toe ek die vreugde van vergewe en seën ervaar het. Dit was die eerste keer dat ek en Hennie ‘n Lewensverrykingseminaar bygewoon het. Ds Sors Geldenhuys het ons geleer dat ware vergifnis beteken dat jy nie net die persoon vergewe nie, maar dat jy die Here vra om hom te seën. Ons is nog bereid om die woorde van vergifnis uit te spreek. Maar om die ootreder te seën????

Hoe maklik was dit vir jou om verlede week die mense op jou lysie te vergewe en vry te spreek? Hoe maklik was dit vir jou om die Here te vra om hulle te seën?

Wanneer dit gaan oor jou mense vir wie jy in elke geval lief is, is dit sekerlik nie ‘n probleem nie. Maar hoe kry mens dit reg om te bid vir die persoon wat jou laaste pensioengeld verduister het of jou kind se dood veroorsaak het? Hoe lyk die seën waarvoor ons moet bid?

Die Skrifgedeelte wat ds Sors Geldenhuys in die verband gebruik het was 1 Pet 3:9…

Vergeld geen kwaad met kwaad of skeldwoorde met skeldwoorde nie, maar seën inteendeel, omdat julle weet dat julle hiertoe geroep is, sodat julle seën kan beërwe.

Vir ‘n begin vra dit van ons om verrassend anders op te tree. Voordat ons Jesus as Verlosser leer ken het, sou ons natuurlike reaksie gewees het om die oortreder in eie munt terug te betaal. Of ten minste ‘n manier te vind om hom te laat boet. Maar nou vra Jesus dat ons moet seën. Hoekom? Want ons is daartoe geroep omdat Hy ons volkome vergewe het.

Ek weet nie van jou nie, maar ek het vir lank nie die seën-deel van die 1 Pet 3:9 toegepas nie. Ek het nie raakgelees dat Jesus my ROEP om te seën as ek benadeel is nie. Dit is ‘n opdrag, nie ‘n versoek nie. Ek kan nie die seëndeel verwag as ek nie gehoorsaam wil wees aan Sy opdrag om te seën nie.

Ds Sors het my gehelp om dit te snap. Ek wens ek kan aan jou die vrede en vreugde beskryf wat ek daardie dag by Lewensverryking ervaar het, toe ek iemand uit my verlede by name kon vryspreek. Ek kon vra dat die Here hom sal seën. En ek kon voel hoe neem die Here die seer weg wat so diep weggesteek was. Maar die beste… ek het die innige nabyheid van Jesus ervaar. Hy het my met Sy vrede geseën!

Maar hoe lyk die seën waarvoor ons moet bid?

Ons eerste gedagte is dat seën materiële voorspoed en goeie gesondheid beteken. Dit mag dit insluit, maar die grootste seën waarvoor ons kan bid is dat daardie persoon sy hart voor Jesus as Verlosser sal buig.

Wanneer die persoon ongered is, bid vir sy redding. Wanneer dit ‘n mede-christen is, bid rondom heiligmaking.

Ek bid graag baie spesifiek. Iets soos bv: “Here, ek vergewe vir S vir … Ek het baie … gevoel. Ek spreek haar vry en seën haar. Sal U asseblief haar hart aanraak en haar siel red en haar seën met selfbeheersing en ‘n fyn aanvoeling.”

Of dalk: “Here, ek vergewe my broer/suster vir…. Lei hulle deur U Gees en seën hulle met insig sodat hulle U stem sal hoor en geestelik sal groei in die area van…”

Dit gebeur dikwels dat die mense wat jou die seerste maak jou eie familie is, of mense in die kerk, medegelowiges van wie jy dit nooit sou verwag nie. Wanneer ons dan medegelowiges seën, kan ons spesifiek bid rondom aspekte van geestelike groei. Wanneer kinders van die Here vir mekaar bid rondom verander te word van heerlikheid tot heerlikheid, sal ons mekaar makliker kan vergewe en seën.

Neem nou weer jou lysie van verlede week. Bid een vir een daardeur soos ons nou net bespreek het.

Wat voel jy nou in jou hart? As die seer plek gemaak het vir vrede, krap daardie naam behoorlik uit. Selfs al onthou jy die omstandighede. Die toets is dat die seer weg is.

Hou moed as daar nog seer in jou hart is oor party name. Selfs al het jy hulle vergewe. Ons praat binnekort oor hoe ons dit kan hanteer.

Mooi loop, tot volgende keer

Ellison

 

 

Search
×