20 Julie 2025

Van heerlikheid tot heerlikheid deur vergifnis (08)

 

Verlede week het ‘n diep hartsondersoek van jou gevra. Maar ek weet uit ondervinding dat elkeen wat bereid was om in gehoorsaamheid dit saam met ons Here Jesus deur te werk, verbaas staan oor die vrede en vreugde en vryheid wat dit gebring het.

Dit is eers wanneer jy iemand anders van harte vrygespreek het, dat jy besef dat dit eintlik jy self was wat in kettings en boeie was. Nooit die ander persoon nie.

Ek wil met hierdie laaste skrywe graag net ‘n paar getuienisse deel om julle te bemoedig vir situasies waar vergewe nog ‘n uitdaging is.

Die eerste is die getuienis van Ds Pieter Badenhorst wie se ma wreedaardig vermoor is. Sy getuienis is aangrypend. Ek gee sommer hier ‘n skakel na een van die videos: Pieter Badenhorst : Vergifnis.

Vra die Here dalk hierdie tipe gehoorsaamheid van jou?

Die tweede getuienis kom uit ‘n ondervinding by Lewensverrykingseminare (Lewensverryking seminare) waar ek so baie oor vergifnis geleer het.  In die groepie wat ek moes fasiliteer was daar ‘n jongman wat iemand verantwoordelik gehou het vir die dood van sy broer. Die persoon het om vergifnis gevra maar die jongman het geweier om te vergewe. Selfs al was die persoon nie direk aandadig aan sy  broer se dood nie. Na die vergifnispraatjie waar ds Pieter ook sy getuienis gelewer het, het die jongman die vriend van sy broer vergewe. Hy bel toe dadelik om dit vir hom te sê. Die vriend het in trane uitgebars en gesê dat die kwytskelding en vergifnis sy lewe aan hom terug gegee het.

Is daar dalk nog iemand wat smag na jou vergifnis en vryspraak?

Die derde is ietsie uit my eie lewe. Weens ‘n misverstand tussen my en ‘n goeie vriend in een van ons vorige gemeentes, het ek met ‘n groot stuk seer deur ‘n erediens geworstel waarin ek ‘n kersfeesopvoering met die Sondagskoolkinders moes doen. Ek het toe reeds die beginsels van vergifnis geken en ek kies toe om hom dadelik te vergewe vir wat hy kort voor die diens gesê het. Ek kon voel hoe die Here die seer wegneem, maar toe dink ek weer hoe hy my verneder het. Dadelik was die seer terug. So het ek heen en weer geworstel totdat ek besluit het om per e-pos om verskoning te vra vir my aandeel en hom te vergewe vir syne. Ek het rustig en tevrede gevoel… totdat ek 3 dae later ‘n sms ontvang: “verskoning aanvaar”. Ek was dadelik woedend want… daar was geen jammer of skulderkenning nie.

Het jy ook iemand om te vergewe van wie jy weet daar geen teenprestasie van skulderkenning gaan wees nie?

Die vierde is ‘n waarneming. In my eie lewe het ek al ervaar dat ek nie dadelik wil vergewe nie. Ek wil hê die persoon moet besef wat hy gedoen het. Of ek wil erkenning hê vir die seer wat ek ervaar. Die Engelse praat van “validation.” Ek sien dit ook by mense wat worstel met seer in verhoudings.

Dit is seker nie verkeerd om te wil hoor dat die seer wat jy ervaar geregverdig is nie. Maar daar is ‘n groot gevaar daarin om te lank daarop te wil parkeer. Pas op dat die erkenning van jou seer deur ander nie verskonings word om nie te vergewe nie. Pas op dat jy nie dink dat die erkenning van jou seer deur ander mense jou seer moet wegvat nie.

Moet jy dalk jou behoefte aan “valadation” verruil vir gehoorsaamheid om waarlik  vry te spreek?

Laastens wil ek jou aanmoedig om Bruce Wilkenson se 70×7 te doen as jy nog nie het nie. Hier is die skakel: 70 x 7: Finding Peace by Forgiving Others… and Yourself – Ten Courses.  Ons Bybelstudiegroep het dit nou begin doen en ek sien baie uit na wat ons gaan leer.

Ek hoop dat hierdie reeks vir jou ietsie oopgemaak het van die vryheid wat daar in vergifnis is. Deel asseblief jou getuienis in die kommentaarblokkie sodat ander daardeur versterk en aangemoedig kan word.

Mag die Here jou  lei in die vryheid van vergifnis sodat jy waarlik van heerlikheid tot heerlikheid verander kan word deur met ‘n opregte hart elkeen wat teen jou oortree te vergewe.

Joh 8:32 En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.

 

 

Seën vir jou

Ellison

Search
×