Oor ons...
Iets oor Hennie en Ellison se visie
Beide van ons hou van skryf. Ons het nogal uiteenlopende onderwerpe wat ons interesseer, maar vir beide van ons is dit uiters belangrik dat dit wat ons skryf mense op verskillende terreine sal toerus, en sal ondersteun op hulle pad saam met Jesus Christus. Ongeag of dit akademiese, wetenskaplike of teologiese werke is. Of kinderverhale of fiksie of poësie. Ons hart is om God as die Bron van Waarheid en Liefde te eer.
Efesiërs 4:15 verwoord ons begeerte baie mooi…
…maar, terwyl ons in liefde die waarheid betrag, (dat ons) in alles sou opgroei in Hom wat die Hoof is, naamlik Christus. Waarheid in Liefde Produksies bied ook aan ander skrywers die geleentheid om hulle werk voor te lê vir moontlike e-publikasie.
Iets oor Hennie…
Ek is ‘n elektriese ingenieur wat in die laaste 7 jaar van my werksloopbaan aan die Universiteit van Kaapstad beheerstelsels en elektronika in die departement Meganiese en Megatroniese Ingenieurswese doseer het. Ek was vir die voorafgaande 37 jaar verbonde aan Denel en het my doktorsgraad in 1994 verwerf. Om waarheid aan die lig te bring was nog altyd vir my baie belangrik, veral betreffende die Bybel en oorsprongswetenskappe, maar natuurlik is my skrywes beperk tot my huidige insig wat geensins volmaak is nie. Ek het ook studies gedoen oor die Eksodus-uittog en werk voortdurend aan geloofskwessies gegrond op die Bybel.
Iets oor Ellison
Ek was in die bevoorregte posisie om vir ‘n groot deel van my lewe mamma en huisvrou te wees. My opvoedkundige speelgroepie, Babbelkousies, het my 10 jaar besig gehou. Daarna het ek by laerskoolonderwys betrokke geraak. Ek het ook ‘n BTh in pastorale berading voltooi. Ek geniet die skryf van Bybelstudiehandleidings baie. Net so ook kinderliedjies, rympies en stories.
Ons gesin
Ons is in 1982 getroud en is geseënd met 4 lieflike dogters, almal getroud. Tussen hulle het ons 4 kleinseuns en 7 kleindogters.
Groete
Hennie en Ellison Mouton