22 Junie 2025

Van heerlikheid tot heerlikheid deur vergifnis (04)

Wat sou julle sê sou die teenoorgestelde wees van Jesus se versekering dat ons van heerlikheid tot heerlikheid verander word soos wat ons lees in 2 Kor 3:18?

En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in ‘n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is.

As ons wil praat oor die praktyk van vergifnis, speel die antwoord op die vraag hierbo ‘n belangrike rol:

  • Is ek in nederigheid bereid dat Hy my hart se diepste bedoelinge sien ,of staan ek met ‘n masker en bravade van eie geregtigheid voor Hom?
  • Reageer ek in gehoorsaamheid op die opdragte wat Hy gee of vind ek verskonings om dit te systap?
  • Is dit vir my belangrik om verander te word na die beeld van Jesus of is my eie beeld en aansien en regte vir my die belangrikste?

Sou jy saamstem dat elkeen wie sy hart sou verhard, nie na die beeld van Jesus van heerlikheid tot heerlikheid verander kan word nie? In plaas van vreugde en vrede en lewe,bly so ‘n persoon vasgevang in skuld en skaamte en dood.

In Joh 10:10  bied Jesus vir ons LEWE en OORVLOED aan terwyl die dief wil slag en steel en verwoes.

Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed  kan hê.

Om die praktyk van vergifnis te verstaan moet ons besef dat dit oor baie meer gaan as die onreg wat ons aangedoen is. Hier is ‘n geestelike stryd om lewe en dood aan die gang. In Johannes 10 praat Jesus oor die redding wat net in Hom is. Hy is die een wat die skape oppas en bewaar. Maar die Satan wil hulle vernietig.

Een van die maniere waarop Satan slag en vernietig, is om die mens te oortuig dat hy die reg het om die een wat teen hom oortree het verantwoordelik te hou totdat hy betaal het vir die onreg en seer. Op die manier bly die mens se fokus op die oortreder en nie op Jesus nie. Soos ‘n harpoen wat in ‘n marlyn ingeskiet is, is daar ‘n tou wat hom aan sy oortreder verbind. Totdat hy dit sny deur te vergewe.

Aan die ander kant bring vryspreek en vergewe lewe. Wanneer ons die oordeel en wraak in die Here se hande oorlaat, hoef ons nie meer heeldag op die oortreder te fokus nie. Dit is dan dat ons eers besef dat ons in werklikheid die hele tyd eintlik die slaaf van die oortreder was, en nooit anders om nie.

 

Kom ons kyk dan nou na die basiese proses van vergifnis.

  • Besluit om aan die opdragte van Jesus gehoorsaam te wees.
  • Raak stil voor Hom sodat Hy jou hart aan jou kan openbaar.
  • Skryf die name neer van die wat teen jou oortree het of jou seergemaak het.
  • Spreek hulle vry van die onreg wat hulle jou aangedoen het.
  • Gee jou “reg” op om te vergeld of ingedoen te voel.
  • Bid vir hulle die seën van die Here

Die eerste drie punte behels ‘n onderworpenheid aan die Here wat gebore word uit ‘n hart wat na Sy beeld verander wil word. Ek lys net ‘n paar Skrifgedeeltes waarmee jy voor dieHere kan stil word:

  • Ef 4:32 Maar wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar; vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het.
  • Matt 5:44 Maar Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg.
  • Rom 12:14 …seën die wat julle vervolg, seën en moenie vervloek nie… 

Wanneer ons besluit dat ons gehoorsaam wil wees aan dit wat die Here rondom vergifnis vir ons vra, sal Hy ook jou hart sag maak om nog vele ander Skrifgedeeltes in die verband raak te loop. Laat toe dat die Here jou hart bedien en vra Hom om aan jou te openbaar wie daar is wat jy moet vergewe. Jy sal verbaas wees oor die mense waaraan Hy jou herinner.  Maak ‘n lysie van:

  • Elke familielid of vriend wat jou op een of ander manier gewond het
  • Elke broer of suster of leraar of ander geestelike wat jou ontnugter of teleurgestel het
  • Elke persoon wat jou familie te na gekom of benadeel of besteel of leed aangedoen het
  • Elke professionele persoon wat ‘n oordeelsfout begaan het wat jou skade berokken het
  • Elke kollega of onderwyser of mede-leerder wat jou beledig of verneder het
  • Elke naamlose inbreker of dief of onverskillige bestuurder
  • Elke persoon wie se naam in jou hart een of ander seer of slegte emosie oproep.

Bid nou oor elkeen van hierdie name en vergewe hulle deur hulle vry te spreek van wat hulle aan jou gedoen het. Bid die Here se seën oor hulle.

Met baie van die name op jou lysie sal jy ervaar dat die Here dadelik genesing bring. Maar jy mag ervaar dat sommiges se seer nog ‘n vastrapplek het. Kan ons maar volgende keer oor daardie gevalle gesels?

Intussen is jy welkom om direk met my te skakel as jy vrae het, of om jou kommentaar of getuienis in die kommentaarblokkie te deel.

Mag die Here jou seën in jou vryspreek van ander.

Groete

Ellison

0835540143

Search
×