Onderstaande is geneem uit die Daniël-Bybelstudie van hierdie webwerf.
Enigeen van die Meder-Persiese konings kon Artasasta genoem word, want dit beteken koning, soos Farao in Egipte.
Dan 11:2 En nou sal ek jou die waarheid te kenne gee. Kyk, nog drie konings sal opstaan vir die Perse, en die vierde sal groter rykdom verwerf as almal; en as hy sterk is deur sy rykdom, sal hy alles in beweging bring teen die koninkryk van Griekeland.
My beste verstaan van die konings van die Meder-Perse is die volgende.
Dit lyk of daar genoeg sekulêre bevestiging is van die verwoesting van Jerusalem in 586/587 vC. Dit word dus as ankerpunt vir die jaartal gebruik. Soortgelyk is daar bevestiging van die val van Babilon in 539 vC. Dit verskil nie 70 jaar nie; daarom probeer die Jehova-getuies die verwoesting van Jerusalem skuif na 606/7 vC, maar dis die verkeerde oplossing. Die antwoord is dat die Joodse ballingskap wyer as hierdie gebeure gestrek het – dit het al begin toe Daniël en die eerste ballinge weggevoer is na Babilon, baie jare voor Jerusalem en die tempel verwoes is.
Die Judeërs is 4 kere weggevoer:
- Van 23 jaar voor Jerusalem en die tempel se verwoesting was Juda onderdanig aan Egipte, toe koning Joahas, seun en opvolger van Josia, gevange geneem en weggevoer is na Egipte, en Jojakim, ‘n ander seun van Josia, aan bewind gestel is deur Nego van Egipte, dus 609 vC.
- In die 3de jaar van Jojakim se 11 jaar van onderdanige regering het Juda onderdanig aan Babilon geword, dus 607 vC. Daniël en ander ballinge is toe weggevoer (Dan 1:1-4).
- Sy seun Jojagin volg hom op in 598 vC, regeer net vir 3 maande, en gee homself oor aan Nebukadnesar van Babilon. Judeërs word toe op groot skaal weggevoer in ballingskap na Babilon, en Nebukadnesar maak Jojagin se oom, Sedekia, die regeerder van Juda.
- Sedekia rebelleer teen Babilon, en word 11 jaar later deur Nebukadnesar verslaan, en Jerusalem en die tempel word verwoes, en nog Judeërs word weggevoer in ballingskap. Dit was dan 586/587 vC.
Die konings van die Meder-Perse:
- Darius, die Meder, seun van ‘n onbekende Ahasveros, was 62 toe hy Babilon verslaan en koning geword het, in 539 vC (Dan 5:30 en 6:1 wat direk opmekaar volg). Hy was Darius van Daniël in die leeukuil. Hy word opgevolg deur Kores die Pers. Dan 6:29 lyk of dit dié volgorde ondersteun. Ek stel 539-537 vC voor vir sy heerskappy, want die 70 jaar is om in sy 2de jaar (Sag 1:12 en 7:5), en ook in die 1ste jaar van Kores (Esra 1:1,2).
- Kores, die Pers, gee bevel om die tempel te herbou, 70 jaar nadat die Judeërs in ballingskap weggevoer is, in die 1ste jaar van sy regering, dus 539 vC of 537 vC of 528 vC of 516 vC, afhangende van wanneer die begin van die ballingskap beskou word as. Ek werk op 537 vC want dit klop met Darius die Meder se 2de jaar en Kores se 1ste jaar. Ek stel dus 537-522 vC voor vir sy heerskappy want die sekulêre geskiedenis noem Darius die Grote as heerser van 522 tot 486 vC. Die regeerders 3 tot 5 en 7 hieronder is die 4 konings van Dan 11:2. Dit beteken Daniël het tenminste 15 (raai van sy ouderdom toe hy weggevoer is) + 606 (2de jaar van Nebukadnesar, kyk Dan 2:1) – 537 + 2 (kyk Dan 10:1) = 86 jaar oud geword. Kores is opgevolg deur Darius die Grote.
(Ek los Cambyses II as opvolger van Kores uit omrede Dan 11:2 se openbaring van 3 + 1 konings, met gedeeltelike bevestiging uit sekulêre geskiedenis – kyk verwysings heelonder. Cambyses II het moontlik gedeeltelik regeer terwyl Kores nog aan bewind was.)
- Darius die Grote het geheers van 522 tot 486 vC, en hy is opgevolg deur Ahasveros van Ester.
- Ahasveros van Ester, was ook Artasasta, die koning van Persië, genoem, vgl Esra 4:6-11. Hy verhoed dat die tempel verder gebou word, waarskynlik vóór hy met Ester getroud is. Hy was moontlik Xerxes I van die sekulêre geskiedenis, 486-465 vC. Hy is opgevolg deur Darius die Pers.
- Darius, die Pers, ook Artasasta genoem, vgl Esra 6:15 en 7:1, gee bevel om die tempel verder te herbou in sy 2de jaar, die tempel is voltooi in sy 6de jaar. Hy was waarskynlik Darius Longimanus van die sekulêre geskiedenis, want hy was al 20 jaar aan bewind toe Nehemia hom (Artasasta) in Neh 2 gevra het om Jerusalem verder te gaan herbou. Hy gee toestemming en Daniël se 70 sewetalle begin dan. Volgens die sekulêre geskiedenis is dit 444 vC. In Neh 13 is Artasasta al 32 jaar aan bewind. Sekulêre geskiedenis gee sy bewind as 465 vC tot 424 vC. 465-20=445 wat goed klop met die 444 vC hierbo genoem. Dit beteken die tempel was voltooi in 459 vC.
- … ’n aantal konings. Dan 11:2 laat die moontlikheid blyk dat nog konings tussen my nommer 5 en 7 was.
- Darius III: 336 tot 330 vC.
Die Griek Aleksander die Grote regeer van 336 vC tot 323 vC. Hy verslaan die Meders en Perse finaal in 330 vC.
Die Kores-silinder, wat in 1879 ontdek is in die ruïnes van Babilon, se teks wys dat Kores meer offerandes toegelaat het, en menswaardig opgetree het. Dit klop met die toelatingsbevel om Jerusalem se tempel te herbou. Daar is nie ‘n verklaring dat hy Babilon aangeval het nie, maar dat hy dit eerder wou herstel. Dit klop met die Bybelse inligting dat Darius die Meder Babilon ingeval het as voorganger van Kores.


